Edward Elgar | |
---|---|
Edward Elgar in 1931. Foto-portret deur Herbert Lambert | |
Agtergrondinligting | |
Gebore | 2 Junie 1857 Lower Broadheath naby Worcester, Engeland |
Sterf | 23 Februarie 1934 Worcester, Engeland |
Genres | Klassieke musiek |
Beroep(e) | Komponis |
Jare aktief | 1877 - 1934 |
Sir Edward William Elgar, 1ste Baronet, (* 2 Junie 1857, † 23 Februarie 1934) was 'n Engelse komponis wat veral met sy orkeswerke, waaronder die Enigma Variations, marsmusiek soos die Pomp and Circumstance Marches, concertos vir viool en tjello, twee simfonieë, koorwerke (waaronder The Dream of Gerontius), kamermusiek en liedere bekendheid verwerf het. Baie van sy werke maak deel uit van die Britse en internasionale repertoire van klassieke musiek. Elgar is in 1904 deur koning Edward VII tot ridder geslaan. In 1924 is hy as Master of the King's Music benoem ('n besondere pos in die koninklike huishouding).
Alhoewel na Elgar dikwels as tipies Engelse komponis verwys word, is hy hoofsaaklik deur musikale strominge van vastelandse Europa beïnvloed. Elgar het homself as buitestaander beskou, nie net in musikale opsig nie, maar ook in sosiale. Terwyl musikale kringe deur akademici oorheers is, het hy self geen formele opleiding gehad nie en hom as komponis volledig deur eie studie gevorm. As lidmaat van die Rooms-Katolieke Kerk is hy in sommige Brits-Protestantse kringe met argwaan bejeën. Ook was hy in die baie klasbewuste samelewing van Victoriaanse en Edwardiaanse Brittanje uiters gevoelig oor sy eie nederige afkoms, selfs nadat hy wye erkenning as komponis geniet het. Elgar het nogtans in 1889 met Caroline Alice Roberts, die dogter van 'n Britse senior offisier getrou wat hom in sowel musikale asook sosiale opsig geïnspireer het. Maar eers in sy veertigs was Elgar werklike sukses as komponis beskore toe sy musikale werk - ná 'n reeks komposisies wat slegs tot 'n mindere mate erkenning geniet het - met sy Enigma Variations in 1899 skielik in Groot-Brittanje en oorsee gewild geword het.
Die Variations is in 1900 opgevolg deur The Dreams of Gerontius, 'n koorwerk wat op 'n Rooms-Katolieke teks baseer en in Anglikaanse kerkkringe nie gretig ontvang is, maar desondanks in Brittanje en die buiteland ingang tot die kernrepertoire gevind het. Elgar se latere godsdienstige vollengte-koorwerke is goed ontvang, alhoewel hulle nie deel van die standaardrepertoire geword het nie. Die eerste van sy Pomp and Circumstances-marse (1901) is daarenteen orals in die Engelssprekende wêreld welbekend.
In sy vyftigs het Elgar 'n simfonie en 'n vioolconcerto gekomponeer wat baie groot sukses behaal het. Sy tweede simfonie en sy tjelloconcerto was nie dieselfde sukses beskore nie en is eers taamlik laat in Britse orkesters se standaardrepertoire opgeneem. In sy latere jare het Elgar se musiek veral by Britse gehore aanklank gevind. Ná sy afsterwe het sy komposisies 'n generasie lank gewildheid ingeboet, maar 'n reeks nuwe opnames van sy werke het in die 1960's weer groter belangstelling in sy musiek gewek. Sommige van sy werke geniet groot aandag in die buiteland, maar dit is die Verenigde Koninkryk waar sy musiek die meeste gespeel word.
Elgar is as die eerste komponis beskryf wat grammofoonplate as nuwe musikale medium aanvaar het. Tussen 1914 en 1925 het hy 'n reeks plate-opnames van sy werke self gedirigeer. Die invoering van mikrofone in 1925 het meer akkurate klankopnames en musiekreproduksie moontlik gemaak en was vir Elgar rede en aansporing genoeg om nuwe plate-opnames van die meeste van sy belangrikste orkeswerke asook van uittreksels van The Dream of Gerontius te maak.
Die afsterwe van sy vrou Alice op 7 April 1920 het Edward Elgar gebroke gelaat. In die laaste veertien jaar van sy lewe het slegs 'n handjievol kleiner werke uit sy pen gevloei, waaronder die Severn Suite, die Nursery Suite, enkele klavierstukke, liedere en orkestrale transkripsies. Sy twee laaste groot komposisies, 'n opera en 'n simfonie, het nie verder gevorder as fragmente nie. Die opera The Spanish Lady, wat hy in 1929 begin komponeer het en waarvoor Sir Barry Jackson, direkteur van die Malvern Festival, die libretto bygedra het, baseer op Ben Jonson se toneelstuk The Devil is an Ass.
Elgar se derde simfonie, wat hy in opdrag van die BBC gekomponeer het, was nog ver van klaar toe die komponis in Februarie 1934 aan kanker oorlede is. Elgar se onvoltooide manuskrip met 127 bladsye het sindsdien ruimte gelaat vir baie spekulasies, maar toe die komponis, skrywer en kritikus Anthony Payne die fragmente in 1972 vir die eerste keer bestudeer het, het die musiek se "krag en vitaliteit" hom daarvan oortuig dat Elgar besig was om 'n laat meesterwerk te skep. Payne het die materiaal in opdrag van BBC Manchester vir 'n ateljeekonsert van die BBC Philharmonic Orchestra bewerk. Nadat dit in 1995 met sukses opgevoer is, het Elgar se erfgename hul toestemming vir 'n volledige rekonstruksie van die simfonie deur Anthony Payne verleen. Dit is vir die eerste keer op 15 Februarie 1998 deur die BBC Symphony Orchestra onder leiding van Andrew Davis in Londen se Royal Festival Hall opgevoer.[1]